Waterkwaliteit: ’n Onderskatte Element in die Spuittenk
Daar word dikwels oor waterkwaliteit gepraat tydens boeredae, op die plaas of by opleidings-geleenthede. Daar is baie misverstande oor die effek van waterkwaliteit op die chemie wat gebruik word. Meestal word slegs gekyk na pH en direkte verbande word dan kwansuis afgelei tussen pH en soutindekse. Dit kan totaal misleidend wees. Baie duur besluite word geneem oor spuitmengsels sonder om veel aandag te gee aan die spesifieke produkbehoeftes.
Verder word die bydrae van sekere katione ook dikwels misgekyk. Hierdie artikel gaan dan poog om meer lig te werp op die interpretasie van waterkwaliteit vir pesbeheer-doeleindes en die toepassing daarvan.
Die artikel poog nie om alle permutasies te verwoord nie, slegs beginsels word be-spreek. Spesifieke tegniese navrae moet aan die verskaffer van die produkte gerig word indien die etiket dit nie vermeld nie.
Wat is belangrik?
-
Eenhede waarin gemeet word.
-
Elektriese geleidingsvermoë (EK). en totale opgelosde stowwe (TDS).
-
pH.
-
Hardheid, katione, bikarbonaat en karbonaat.
-
Turbiditeit.
-
Watertemperatuur.
Bespreking van die kwaliteit van water - parameters
Die eenhede sal bespreek word onder die bepaalde hoofde.
Elektriese geleidingsvermoë en totale opgelosde stowwe
Elektriese geleidingsvermoë (EK) of “electrical conductivity (EC)” is die meting van die vermoë van die water om elektrisiteit te gelei. Dit word gemeet deur ʼn konstante potensiaalverskil (in volts) tussen twee vaste metaalpunte 1 cm uit mekaar te induseer. Die sterkte van die stroom is dan ʼn aanduiding van die geleidingsvermoë van die water. Suiwer water se geleiding is zero, omdat daar geen soute opgelos is nie. Die een-heid word dan beskryf as milliSiemens per liniêre sentimeter (cm) – mS/cm. Baie laboratoriums rapporteer as microSiemens per liniêre cm - µS/cm.
Soms ook mS/m. Die ou benaming kan ook dikwels raakgeloop word nl. mho/cm.
Dit is die omgekeerde term vir ohm waarin weerstand gemeet word. Hoe laer die geleid-ing, hoe hoër die weerstand. En net om dinge lekker om te krap gebruik sommige laborato-riums desimeterSiemens per meter (dS/m). Hier onder is ’n tabel van die mees algemene eenhede en hul omskakeling.
Totale opgelosde stowwe (TDS) is die hoeveelheid stowwe wat volledig opgelos het in die water. Dit word weergegee as dele per miljoen (dpm) of mg/L in geval van vloeistowwe waar dpm = mg/L.
’n Benaderde waarde van die EC of TDS kan bereken word d.m.v. die volgende formule:
TDS (mg/L) = k x EC (μS/cm) (1)1
Die waarde van die konstante (k) varieer na gelang van die kwaliteit van die water. Vir water tussen ’n EC van 100 mS/m tot 500 mS/m, kan k ’n waarde van 6,5 aanneem.
Met suiwer water sal jy bv. k = 5 gebruik. Chloried (Cl-), natrium (Na+) en magnesium (Mg2+) oefen die grootste invloed uit op die waarde van k. Uit die boonste grafiek kan duidelik gesien word dat daar ’n swak verband bestaan tussen EC en pH. Hoë pH impliseer nie noodwendig hoë EC-waardes nie. Die soute verantwoordelik vir EC en pH kan wesenlik verskil.
Die invloed van EC op chemie affekteer veral onkruiddoders soos 2,4 DB, fluroxypyr en triasiene. Dit is veral geldig waar die natrium en chloor elk 500 mg/L oorskry, of die som
van die twee 1 000 mg of hoër is, of die EC bo 500 mS/m is. TDS-waardes bo 1000 mg/L het mesotrioon-werking met 18% inhibeer op Palmer-misbredie.
Sommige mag dalk nie sout-sensitief wees nie, maar die formulasie van die produk kan wel sout-sensitief wees wat dan uitsakking (presipitasie) tot gevolg kan hê. Sekere Diuron-, 2,4-D-, sulfonielureums- en MCPA-mengsels kan hiervoor sensitief wees.
Insek- en swamdoders is gewoonlik baie min- der sensitief vir hoë EC-waardes. Bymiddels kan wel geaffekteer word soos olies en sekere benatters waar die EC hoog raak.
Oplossings vir hoë EC-waters is moeilik omdat die soute in oplossing is. Seleksie van beter waterbronne (al is dit verder van die land af) of vermenging met beter bronne kan die probleem verlig.
Suurheidsgraad van die spuitwater weergegee as pH
Die pH word gemeet per definisie as die konsentrasie van die waterstofioon op ʼn loga- ritmiese skaal. ʼn Log-skaal is gekies omdat die waardes baie klein is en veelvoude van 10 vermenigvuldig met 10 net makliker werk. Kom ons kyk na ʼn voorbeeld.
Water is ʼn balans van die waterstofioon as H3O+ en die hidroksielioon OH- wat miljoene keer per sekonde bind en ontbind om water te vorm – H2O.
H3O+ + OH- = 2H2O (2)
pH = - log [H3O+] (3)
pH = - log [1 x 10-7]
pH = 7
Die konsentrasie is dus 0,0000001 mg/L van die waterstofioon. Sou die samestelling van die soute in die water die reaksie bevoordeel waar meer waterstofione gevorm word, dan daal die pH.
Kom ons veronderstel daar word ʼn suur by die water gevoeg en die konsentrasie van die H3O+ styg na 0,00001 (1 x 10-5) dan is die pH = 5. (Onthou -7 is kleiner as -5.) Hieruit kan ook gesien word dat die konsentrasieverskil hon-derdvoudig is! Dit is dan ook die rede dat selfs klein verskille groot implikasies kan hê as dit by chemiese reaksies kom. ʼn Paar algemene pH- waardes is bv. asyn (pH = 3), koffie (pH = 5,5), koeksoda (pH = 8) en bleikmiddel (pH = 13).
Sommige aktiewe van produkte is sensitief
vir die hidroksielioon se konsentrasie en ander weer vir die waterstofioon se konsentrasie. Die chemiese reaksie word hidrolise genoem. Hidrolise is dus ʼn vorm van ʼn chemiese reaksie met water waar die chemiese bindings van die substraat ontbind of gebreek word. (Uit Grieks: hidro = water, lise = breek.)
Dit verander die eienskappe van die substraat sodanig dat die oorspronklike funksie nie meer vervul kan word nie. In pesbeheer terme sal ons dan sê die aktiewe bestanddeel het che-mies afgebreek sodat swak beheer verkry gaan word vir die doel waarvoor dit aangewend was.
Hoe sensitief ʼn aktiewe bestanddeel vir pH is, word uitgedruk i.t.v. halfleeftyd. Elke aktief het sy eie tydseenheid waarteen dit verval. Die tyd wat dit neem vir die konsentrasie van die aktief om te halveer is die halfleeftyd.
Dit is interessant om op te let na ʼn paar eienskappe uit Tabel 2:
-
Piretroïedes kan verskil in hul pH-behoefte.
-
Sommige aktiewe breek af teen lae pH- en ander breek af teen hoë pH-waardes.
-
Soms is die halfleeftyd baie kort, soms stabiel.
-
Die optimale pH verseker optimale werking.
Soms word die oplosbaarheid ook deur die pH beïnvloed soos met saflufenasil(3).
Gelukkig vir pH is daar legio produkte op die mark wat die water kan reguleer tot op die gewenste vlakke. Dit word aanbeveel om met hoë TDS- of pH-waters ʼn titrasie- toets te laat doen vir akkurate aanbevelings. Sommige produkte is baie effektief om die soute uit te presipiteer en kan selfs dan die spuitpunte verstop. In so ʼn geval kan net die pH van die spuitmengsel aangepas word as tweedebeste oplossing.
Uit bostaande inligting is dit duidelik dat ʼn man op ʼn perd nodig is om sin te maak uit al die inligting. Dit is imperatief dat spuitwaterkwaliteit met erns bejeën moet word. In deel 2 sal hardheid en die effek van katione behandel word.
Samevatting
1. Bogenoemde verduideliking kan ons kortliks saamvat. Die meting van EC en pH is kritiek vir die mengbaarheid, effektiwiteit en nawerking van die produkte in die spuitmengsel!
2. Die spuitwater moet getoets word soos nodig en die korrekte regstellings gedoen word vir waterkondisionering.
3. Boere moet seker maak dat alle produkte (voeding ingesluit) wat saam in ’n tenk gegooi word die optimum pH ondersteun vir beste effektiwiteit en nawerking van die aktiewes in die mengsel.
4. ’n Buffer kan nie in alle gevalle pH korrigeer nie, die korrekte geregistreerde mengsels is uiters noodsaaklik om te verseker dat jy as boer waarde kry vir jou finansiële uitleg en skade vermy.
Bronne:
1. Anna F. Rusydi, 2018, IOP Conf. Ser.: Earth Environ. Sci. 118 012019.
2. Tabel 2. En Figuur 4. Verskeie tegniese publikasies, SDS dokumente van aktiewe saamgevoeg bv. pH Stability Of Commonly Used Pesticides ,by Allen D. Owings, Associate Specialist(Horticulture), Dale K. Pollet, Specialist (Entomology), Clayton A. Hollier, Specialist(PlantPathology), ReedJ. Lensce, Assistant Specialist (Weed Science), and Robert C. Trawick, Extension Associate (Horticulture), Louisiana State University.
Publikasies van New South Wales, HAL projects. https://grdc.com.au/, Grains and research, development corporation, Australia. Purdue universiteit webblad.
3. Jared M. Roskamp, Ronald F. Turco, Marianne Bischoff, and William G. Johnson “The Influence of Carrier Water pH and Hardness on Saflufenacil Efficacy and Solubility,” Weed Technology 27(3), 527-533, (1 September 2013). https://doi.org/10.1614/WT-D-12-00154.1.